Matriek eksamen net ‘n paar weke weg!

Datum Gepubliseer: 29 September 2020

Die begin van die matriek eksamen is net ‘n paar weke weg. Jy kan die finale eksamen kalender vir skoliere hier vind. Die eksamen kalender vir studente wat die volwasse matriek doen, is hier.

Hierdie jaar is dinge nog meer stressvol a.g.v. al die verlore skooldae met die covid-19 “lockdown”.

Die eksamen se begindatum is uitgeskuif, studente moes van die huis af studeer, en baie tyd is verloor. Dit is ‘n baie moeilike jaar vir matrikulante. Die volwasse matriek eksamen is geskuif van Mei / Junie na November hierdie jaar. Dit beteken dat meer as 1.1 miljoen leerders nou matriek eksamens gaan skryf in November en Desember 2020.

Hier is ‘n paar dinge wat jou sal help om minder te stres en beter voor te berei vir die eksamen.

Voorbereiding

Voor jy begin studeer, maak seker jy het alles wat jy gaan nodig kry. Jou tafel, stoel, studie kalender, beligting en gemoedstoestand is alles belangrik. Hoe beter jy alles regkry voor jy begin, hoe minder onderbrekings is daar terwyl jy studeer.

‘n Goeie plek om te studeer

Maak seker jy het genoeg spasie vir al jou boeke. Teksboeke, notas, skryfpapier, ens.

Genoeg Lig en Lug

Jy sal beter studeer as jy genoeg lig en genoeg lug kry. Net soos ‘n plan! Die lig moet genoeg wees dat jy maklik jou werk kan lees. En genoeg vars lug sal jou help konsentreer.

Musiek of Geraas?

Party mense studeer met musiek. As dit jy is, maak seker dit is sag en dat dit nie jou konsentrasie verbreek nie. Maak seker om die mense rondom jou te laat weet wat jou studie rooster is. Sodat hulle nie raas en jou konsentrasie verbreek nie.

Netheid

As jou studie spasie netjies en georganiseerd is dan sal jy beter studeer. Netheid help jou jou fokus behou. As jou spasie deurmekaar is, dan onderbreek dit jou studies wanneer jy vir notas of ‘n boek moet soek.

Studie rooster

‘n Studie rooster is die beste manier om seker te maak dat jy al jou leerwerk klaar kry voor die eksamen. Dit help hou om by al jou vakke uit te kom. En om seker te maak daar is genoeg tyd vir rus en ontspan.

Die volgende dinge sal jou help om ‘n goeie studie rooster op te stel.

  1. Skryf jou doelwitte neer. Wat wil jy bereik? As jy weet wat jy wil bereik, dan sal jy beter kan bepaal hoeveel jy vir elke vak moet studeer. As jy weet jy sukkel met ‘n spesifieke vak, maak ekstra tyd vir daardie vak.
  1. Jou doelwit moet bereikbaar wees. As jy vir iets mik wat onmoontlik is, sal jy net halfpad opgee. So stel ‘n studie rooster op wat jy weet jy sal kan by hou. Ja, jy moet jouself druk om meer en beter te doen! Maar nie deur onmoontlike dinge van jouself te verwag nie.
  1. Deel jou tyd op. Jy gaan nie 24 uur ‘n dag studeer nie! So laat tyd oop vir etes, rus, oefening en ontspanning. Jy sal beter studeer as jy uitgerus is.
  2. 20 tot 50 minute studietyd op ‘n slag. Jy sal die meeste inligting onthou as jy tussen 20 en 50 minute op ‘n slag studeer. Gevolg deur ‘n 10 minute ruskans. Maak ‘n koppie tee, doen vinnige oefeninge of luister na twee van jou gunsteling liedjies. En begin dan die volgende studie-sessie.
  3. Hou by jou rooster! Moenie ‘n studie periode oorslaan nie. Hoe beter jy by jou plan hou, hoe minder druk plaas jy op jouself. So probeer baie hard om by jou studie plan te hou.
  4. Beloon jouself. Beloon jouself as jy jou studie plan vir die dag suksesvol voltooi het! Dit maak dinge soveel meer aangenaam as jy weet daar is iets lekker wat vir jou wag aan die einde van die dag as jy klaar geswot het.

    Hier is ‘n eenvoudige studie rooster voorbeeld.

Studie materiaal

Maak seker jy het AL jou studie materiaal byderhand. Jy wil nie moet begin soek na notas as jy eers begin studeer nie. Hou elke vak se studie materiaal bymekaar.

Ou eksamen vraestelle en antwoord stelle

Gebruik ou vraestelle om vir jouself ‘n toets-eksamen te hou. Skryf dit onder eksamen toestande. Met geen hulp en geen onderbrekings. En gebruik dan die antwoord stelle om self jou eksamen te merk. Dit is ‘n seker manier om te sien hoeveel jy regtig weet van ‘n vak!

Jy kan ou vraestelle en antwoordstelle hier kry.

Sorg dat jy slaag

Om goed deur te kom vat meet as net ure se swot. Jy moet jou tyd goed gebruik, georganiseerd te werk gaan, en dinge doen om kalm te bly. Meer mense het al gedruip omdat hulle bang was, as omdat hulle nie die werk geken het nie.

Moenie met mense praat wat jou net gaan bangpraat nie. As jy buite die eksamen lokaal wag, hou jou eenkant. Want dit sal altyd voel die ander studente weet meer as jy!

Die ding is ernstig!

Matriek is dalk die belangrikste eksamen van jou lewe. So jy moet kalm bly. Maar jy moet dit ook ernstig opneem. As jy goed wil deurkom moet jy die werk insit!

Onthou, as dinge heeltemal skeefloop sal jy nog ‘n hele paar kanse kry om jou matriek punte te verbeter. En as jy 21 jaar oud word kan jy jou inskryf vir die volwasse matriek.

Leer ander en leer jouself

Die heel beste manier om iets te leer, is om dit aan iemand anders te verduidelik. As jy dit vir iemand anders kan verduidelik dan beteken dit jy verstaan die regtig.

Die foon moet af

Ja… af. Nee… nie op “silent” nie. Want die ding sal net heeltyd jou wil weg trek van jou studies.

Ekstra hulp

Daar is heelwat instansies wat ekstra hulp aanbied vir matriek studente. En baie daarvan is gratis.

Ikamva Youth bied gratis Saterdag studie hulp aan vir skoliere.
Matric College het heelwat hulpmiddels wat jy gratis kan aflaai.
As jy kan betaal, probeer gerus Turtlejar.

Hierdie artikel is gebaseer op ‘n ou artikel wat ek geskryf het in 2016. Die oorspronklike artikel is hier.

Outeur: Jan Badenhorst, CEO, Matric College