- Die vakke wat jy kies vir graad 10, kan bepaal watter toekomstige loopbaan jy kan betree.
- Party tersiêre kursusse vereis dat jy spesifieke vakke gehad het in jou hoërskoolloopbaan.
- Oorweeg jou vaardighede sodat jy die regte uitslae kan kry om verder te studeer.
- Dit is belangrik om jou loopbaankeuses oop te hou, so kies ‘n wye verskeidenheid vakke.
- Hou die feit dat die werksplek gedurig verander, in gedagte. Loopbane soos Digitale Bemarking is besig om te groei.
- Kies vakke wat jou kritieke vaardighede sal aanleer.
- Jy kan die SAQA webtuiste besoek vir raad rakende potensiële loopbane of jy kan ‘n aanlegtoets voltooi om jou te help met jou keuses.
Dit is baie belangrik om die regte vakke te kies in graad 10 aangesien dit jou eerste stap na ‘n toekomstige loopbaan is.
Hier is alles wat jy moet weet oor jou graad 10 vakkeuses:
- Hoekom is dit belangrik om die regte graad 10 vakke te kies?
- Hoe om die regte vakke te kies.
- Waar om raad te kry.
Hoekom Is Dit Belangrik Om Die Regte Graad 10 Vakke Te Kies?
Die vakke wat jy in graad 10 kies, sal bepaal watter tersiêre opleiding jy kan volg en watter loopbaanrigting jy kan kies.
Jou graad 10 vakkeuse is belangrik vir die volgende redes:
Vak-Spesifieke Tersiêre Onderring
Sekere tersiêre-kursusse het toelatingsvereistes wat vak-spesifiek is. ‘n Voorbeeld is loopbane in die mediese rigting. Om so ‘n loopbaan te volg, moet jy beide Wiskunde en Fisiese Wetenskappe neem in graad 10.
Slaagvlakke
Graad 12 slaagvlakke is ook belangrik om in gedagte te hou. Jy sal saam met jou matriekuitslae ook sien watter slaagvlak jy behaal het.
As jy byvoorbeeld gelsaag het op ‘n Hoër-Sertifikaat-vlak, kan jy verder studeer om ‘n Hoër Sertifikaat te kry. Jy kan hier meer leer oor hoe slaagvlakke werk.
Dit is belangrik om hierdie slaagvlakke in ag te neem omdat jy realisties moet dink aan watter vaardighede jy het. As jy graag na ‘n universiteit wil gaan, moet jy vakke kies waarin jy goed genoeg sal slaag om aansoek te kan doen vir universiteit.
Jy het nie nodig om moeilike vakke te kies omdat almal anders dit kies nie. Kies eerder vakke wat jy nodig sal hê vir jou toekoms.
Hou Jou Opsies Oop
Dit is nie maklik om vakke aan die einde van graad 9 te kies nie, veral omdat dit so ‘n groot impak het op jou toekoms nie.
Die beste ding om te doen is om jou loopbaanopsies oop te hou. Hoe wyer jou vakkeuses, hoe meer opsies sal jy hê na matriek.
Hoe Om Die Regte Vakke Te Kies
Aangesien jou graad 10 vakkeuses so belangrik is, is hier ‘n paar riglyne om te volg sodat jy die regte vakke sal kies:
Watter Loopbaan Wil Ek Volg?
Verken loopbaanopsies deur te lees oor verskillende loopbane op die internet. Jy kan ook werkskadu by plekke wat interessant lyk. So kan jy ook bepaal watter vakke nodig is vir hierdie loopbane.
Lees hier hoe om die regte loopbaan kies.
Wat Is My Vermoë?
Kyk na die punte wat jy tans kry vir jou vakke en vra jouself of jy die nodige punte sal kry vir die vakke wat jy wil kies.
Jy kan kies om eerder vakke te neem wat makliker is vir jou, of jy kan hulp kry deur ekstra klasse as jy wel ‘n moeiliker vak nodig het.
Onthou dat daar geen rede is om vakke wat as moeilik gesien word te neem nie. Maak seker om jouself en jou welstand ook in ag te neem.
Wat Pas By My Persoonlikheid?
Dit is belangrik om te dink aan die vakke wat jy wil neem en die loopbaan wat jy wil volg en om te bepaal hoe hierdie pas by jou persoonlikheid.
As jy byvoorbeeld ‘n ekstrovert is en die kollig geniet, kan jy kyk na vakke soos drama of loopbane wat spanwerk behels.
Hoe Verander Die Werksomgewing?
Jy dink dalk nie nou al in graad 9 aan die werksomgewing nie, maar dit bly steeds iets wat jy ingedagte moet hou. Na die wêreldwye pandemie word daar nuwe loopbane gevestig en brei ander loopbane uit.
Om werk te kry in so ‘n wêreld, moet jy ingelig bly. Watter vaardighede sal steeds nodig wees oor drie jaar? ‘n Goeie voorbeeld is Digitale Bemarking. Dit is ‘n goeie keuse aangesien die digitale wêreld aanhou groei.
Wat Is Kritieke Vaardighede?
Kritieke vaardighede is vaardighede wat in hoë aanvraag is. Hierdie vaardighede word hoog geag omdat baie min mense daaroor beskik. Loopbane wat kritieke vaardighede vereis, word ook baie goed betaal en gee meer werksekerheid.
Dink aan die graad 10 vakke wat jy wil neem en bepaal watter kritieke vaardighede jy kan aanleer in die vakke.
Waar Om Raad Te Kry
Die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAQA) het saam met die Departement van Hoër Onderrig en Opleiding die NQF Loopbaan Raad Diens geloods.
Die webtuiste bied raad rakende loopbaankeuses. Jy kan hulle op die volgende maniere kontak:
- Bel hulle: 086 999 0123
- Stuur ‘n SMS: 072 204 5056
- Stuur ‘n e-pos: careerhelp@dhet.gov.za
- Stuur ‘n Tweet: http://twitter.com/rsacareerhelp
- Kontak hulle op Facebook: www.facebook.com/careerhelp
Jy kan ook ‘n aanlegtoets voltooi om te bepaal watter werksveld vir jou gepas is.
Outeur: Simoné Coetzee
Vertaler: Karla Nortier